Waarheen Nou ?

Ons nader weer die einde van die jaar, waar so baie skoolkinders onder druk is met die matriek eind-eksamen. ‘n Tyd waar ouers, die onderwysers en familie so druk uitoefen op kinders om hulle beste te lewer.

Soos in die foto  voel ek as kind soms totaal alleen in my strewe om te voldoen aan my ouers / onderwysers se doelwitte.  Party keer raak alles net te veel om te hanteer!  Is jy een van daardie kinders? 

Maak nie saak hoe donker dinge om jou raak nie, daar is altyd hulp – soos op die foto,  lig in die duister.
Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons:

In Fillipense 4:6 lees ons
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

In Romeine 12:12 lees ons
Verbly julle in die hoop, staan vas in die verdrukking, volhard in gebed.

Daar is ook jou leraar of ‘n vertroueling waarmee jy kan praat.
Sterkte aan al ons matrieks van 2017!

My Karakter

Waarheen is die Here met my oppad?  Hoe lyk my karakter vir die Here en vir die mense om my?

As ons na die foto kyk, is die beeld wat ons kry, iets van verwondering en ongeloof,  oor hoe die water oor duisende jare die gate uit die rots gekerf het. U sal miskien vra wat het dit met my karakter te doen?

Wel ons bid baie keer dat dit of dat moet gebeur, maar helaas vind ons dat ons lewe ‘n totale ander pad loop!  Daar is nie verniet ‘n spreekwoord wat sê “Die mens wik maar God beskik” nie. Die Here laat baie keer dinge toe in ons lewe, om ons karakter te bou en om ons bruikbaar te maak vir Sy werk. Die Heilige Gees werk dus deur  ons om die volgende gawes te verbeter:

Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid en Selfbeheersing.

Party keer worstel ons deur pyn, deur hartseer en ons vra telke male, Waarom Here? Al ooit daaraan gedink dat die Here in Sy wysheid jou wil gebruik om te getuig hoe jy, Sy liefde en ondersteuning ervaar het deur die tyd?

Wend dus daagliks ‘n poging aan om in jou werk en wandel te getuig van Sy dade, want dit is ook een manier om dissipels te maak vir Hom, soos wat Sy word ons vra.

Soos in die foto kerf die Here die gedeeltes in ons karakter wat nie vir Hom aanneemlik is nie, weg en maak die goeie gedeeltes meer prominent.

Lees Galasiërs 5:25